Mosambiek 2003
Reisigersnotas

Op my skoonma se aandrang is ons in Desember 2003 Mosambiek, en meer spesifiek, Maputo toe. Dit het alle verwagtinge oortref! Die algemene persepsie wat die meeste het dat Maputo vol koeëlgate, arm, vuil en onveilig is, is eenvoudig nie waar nie. Ons het niks anders as gasvryheid beleef nie, en is terug huis toe met baie aangename herinneringe.

Voordat ek met die fotos begin (kliek hier om direk daarna te gaan) is dit nodig om 'n paar wenke te gee vir die voornemende Maputo toeris. Let wel dat dit nie mosambiek toeris is nie, volgens die plaaslike mense het jy nog nie Mosambiek gesien as jy net in Maputo was nie. So min as 200km noordwaarts is daar blykbaar die wonderlikste strand vakansieplekke!

AA KAART
Kry heel eerste by die plaaslike AA 'n "Motorry in Mosambiek" kaart (R20,00). Nie net het dit 'n onontbeerlike straatkaart van Maputo nie, maar bevat baie nuttige inligting ten opsigte van besienswaardighede en die moets en moenies van Mosambiek. Die paar wenke wat volg is uit praktiese ondervinding, en is nie noodwendig so oordrewe veilig soos die AA gids nie.

VISUMS
Alle buitelandse besoekers moet visums hê. Vergeet daarvan om in die ry te gaan staan by die Konsulaat in Johannesburg - behalwe as jy genoeg water, geduld en leesstof het vir 'n 6 ure wag - net om die vorms in te gee, en dan 'n dag later dieselfde om dit weer te kry.
'n Baie beter opsie is om 'n reisagent (in ons geval Rennies) te gebruik. Dit kos wel R205 in plaas van R75, maar dis uit en uit die moeite werd. Ons reisagent het ook die nodige vorms gehad om in te vul tesame met 1 paspoortfoto.

GELD
Die plaaslike geldeenheid, Meticais, verhandel teen ongeveer Mts 3600 vir R1. Die koopkrag is min of meer dieselfde as in SA, en ongelukkig was daar nie 'n MacDonalds in Maputo om die BigMac indeks te bepaal nie! Restaurante is baie goeie waarde vir geld en kurios en DVD's op straat se prys is onderhandelbaar. As 'n algemene riglyn word jy ingedoen as jy meer as die helfte van die openingsaanbod uiteindelik betaal. Natuurlik kan jy met 'n Mosambiekse Visum in jou paspoort US dollars koop sonder 'n vliegtuigkaartjie...

Vir Meticais beveel ek sterk aan om in die Polana Shopping Centre se Cambio aan die einde van 24 Julie Laan geld om te ruil vir 'n beter wisselkoers as die garage voor die grenspos. Oor die algemeen aanvaar redelik almal by winkels, restaurante en die straathandelaars Rande, maar dis soms makliker om in Meticais te onderhandel.

GRENSPOS
Die grenspos roetine is nogal daunting die eerste keer, met touts wat hulle opdring om namens jou in die ry te staan. Dis rêrig nie nodig om hulle te gebruik nie, as jy die volgende stappe volg:
1. Aan die SA kant:
- Kry 'n doeanevorm by die SARS toonbank en voltooi dit nét ten opsigte van jou kar (om dit weer te kan re-import na SA) - ek moet nog hoor van van 'n toeris wat met die terugkom in SA in gestop is omdat hy 2 kameras, 3 selfone, 'n Palm en 'n Microvault na SA gesmokkel het - ek weet nie eers waar in Maputo hulle dit sal verkoop nie!
- Stempel jou paspoort by die paspoorttoonbank.

2. Nou ry jy met jou motor na die Mosambiek grenspos:
- Voltooi een van die klein wit vormpies wat orals rondlê met jou paspoortbesonderhede.
- Handig weer jou paspoort (met die wit vormpie) en SARS vorm in by die onderskeie toonbanke en kry dit gestempel terug.
- Paspoortgelde van Mts 28500 (of R12) is betaalbaar by die paspoort toonbank met die gaan en terugkom.
- Buite die gebou moet jy 'n doeanebeampte kry om jou kar te deursoek en jou vehicle passout te teken.
- Ry deur die grenspos en handig die passout in.
- Die eerste tolhek na die grenspos is Mts 55000 maar kan ook in Rand of USD betaal word.
- Die tweede tolhek net voor Maputo is Mts 9500.

VERBLYF
Ons het in Matola so 20 minute van Maputo af gebly in Sophie's Choice gastehuis (Tel 092581 722428, faks 092581 721923) wat deur Elize van Rooyen bedryf word teen R450 per dubeelkamer, ontbyt en swembad ingesluit. Die 24h sekuriteitswag het baie gemoedrus voorsien vir ons paranoïese Suid Afrikaners, alhoewel Maputo laasjaar blykbaar net 2 hijackings gehad het.

Die volgende plekke is ook opsies:
Holiday Inn Maputo - USD 115 per dubbelkamer
Costa do Sol Hotel - USD 50 per dubbelkamer (Tel 092581 450 115, e-pos:
rcs@teledata.mz).
Hotel Ibis (in die middestad) - USD 48

MUST SEES
Costa do Sol restaurant
Die vismark
Die katedraal - en langsaan 'n moderne hotel vir lafenis vir die keel...
Polana Shopping Centre
Die Sir Herbert Baker stasie
Kurios oorkant die Polana hotel
Die kuspad met al die groot huise

MALARIA
Ons het nie die indruk gekry dat malaria 'n groot risiko in Maputo is nie, maar dis beter om eerder veilig te wees. Jou plaaslike Travel Clinic kan dadelik die voorskrifmedisyne produk Doxitab voorsien. Dit kan ook van die mediese fonds teruggeëis word. Ek het geen newe effekte daarvan gehad nie.