Gedagtes


As die lewe maar so eenvoudig was as om die settings op 'n webblad te verander. Met die click van 'n paar muisknoppies en enkele renames en die hele agtergrond verander soos nou net.

Vanmiddag het Dana Snyman, die mens, 'n paar essays uit sy In die binneland voorgelees by Die Boekehuis in Auckland Park. Sy hande het gebewe, maar sy stem het nie 'n oomblik geweifel nie, want hy het voorgelees uit die boek wat hy was.

Daar is so baie treffende inleidings wat mens kan gebruik. Toe ek die computer aanskakel was die eerste sinnetjie op die Start Menu "click here to begin", en ek dink by myself, as die lewe maar so gerieflik was. Maar meestal word ons ingegooi by gebeure wat ons vorm, sonder dat ons die bewustelike keuse uitgeoefen het on te click here to begin. Soos vanaand wat ek die background verander , deur wat wat vir my eenvoudige commands in HTML is. Vir ander mense sou dit 'n onoorbruglike event gewees het.

Dana se kortverhale is vir my opvallend in die opsig dat dit uit 'n ander era is. Die era van Valiant karre. As jy hom sien skat jy hom nie naastenby so oud so wat blyk uit sy outobiografiese vertellings nie. Ons era is die eerste Golf kar en die tydperk van politiese omwenteling. Ons dra nie die skuldgevoelens van sy geslag, wat twyfel oor 'n besoek aan die apartheidsmuseum. Ons voel nie asof ons 'n aandeel aan apartheid gehad het nie. Immers was ons onskuldige studente/skoliere. Die Voëlvry toer het ons (on)gelukkig gemis met 2 jaar. Ons het verlief geraak in die eerste demokratiese verkiesings. Dit is nie nostalgie nie, maar eerder romantiek.

Wat maak egter vir ons saak dan? Die nadraai van die vorige geslag se ervarings. Somehow kan ons nie van die verlede wegkom nie. Ons ouers en hulle tydgenote se skuld het ook 'n deel gehad in ons vormingsjare. Ons mag tot 'n mate onbewus, of eerder onbegrypend gewees het van die politiek gebeure rondom ons in die tagtigs, maar tog het die mense naaste aan ons se worsteling daarmee ons gesmee tot wat ons is.

Soos Dana dit helder kan onthou dat hy in Pretoria se strate gestaan het met Verwoerd se befgrafnisoptog, kan ek dit nog oproep dat ek in 1990 met 'n prefektekamp was toe Mandela vrygelaat is. Dieselfde jaar nog was 'n terloopse verwysing na die ANC in matriekgeskiedenisnotas anachronisties, en in 'n siniese sin redelik humoristies. En juis hierin is vir my 'n onvermydelike waarheid opgesluit: die politiek van die dag beïnvloed ons, hoe apolities ons onsself ook verbeel om te wees.

Wat was my lewe tot dusver egter. Miskien was ek gelukkig om na 'n 9 jaar stint by 'n ou Afrikaanse firma oor te gaan na 'n Joodse firma. Wat ek nou besef, is dat kunsmatige skeidslyne presies dit is. Dis nie die label wat saakmaak nie, maar wel die substansie daaragter. Maar ek probeer juis van my persoonlike ervarings wegbly. Back to reality.

Vanaand sit ek hier agter my rekenaar wat ek minder as 'n maand na 9/11 aangeskaf het. Uiteindelik is daar 'n erkenning in die SA Computer Magazine dat die 3GHz spoed 'n fisiese limiet is wat die afgelope tyd Moore's law gekortwiek het. Tuisrekenaars kan eenvoudig nie vinniger sonder om gespesialiaseerde verkoelingstegnieke te gebruik nie. Ek hoop Microsoft neem dit in ag met die ontwerp van toekomstige operating systems. Of lê ons heil nou uiteindelik by Linux?

Hoe dit ookal sy ('n frase wat ek nog altyd op papier wou gebruik het!), die advent van bekostigbare 24/7 internet is op ons. Nou wag ons net vir Telkom om uiteindelik daardie DSL lyn te kom aktiveer. Dít is vir my 'n mylpaal (nog 'n anachronistiese gesegde as ons in dieselfde asem van DSL praat...).

Wat wag vir ons in die toekoms? Ek kan eenvoudig nie my nuuskierigheid hou nie!