Die Kelder

My tuisteater is in die kelder van ons huis. Daar het ek ‘n 100″ projektorskerm waar ons vir 3 jaar lank by die huis gefliek het. In Januarie 2010 het die ramp gebeur. ‘n Besonder vrygewige reënseisoen het die grondwatervlak laat styg en die tuisteater het oornag in ‘n jacuzzi verander. Toe onder ‘n meter se water. Die enigste direkte skade was die mat, gelukkig kon ek betyds al die elektroniese toerusting uithaal. Maar ons moes ‘n langtermynoplossing vind om ‘n herhaling te voorkom.

Die ingenieurs het aanbeveel dat ons ‘n drein onder die keldervloer installeer wat uitloop in ‘n mangat (man hole) met ‘n dompelpomp wat die water uitpomp sodra dit weer begin styg. Na verskeie kwotasies het die keuse op Flick geval om die nodige werk te doen. By aanvaarding van hulle kwotasie het hulle ons egter in kennis gestel dat ons te “demanding” is en hulle stel nie meer belang in die kontrak nie.

Die tweede rondte kwotasies het ‘n aanvang geneem en ons het besluit op JKJ Pumps. Hulle kwotasie was in elke geval 3 keer  (ja, jy het reg gelees) minder as die van Flick. Teen die einde van September het hulle in die tuin begin grawe aan die mangat, wat uiteindelik 4 meter diep sou word, en hulle het water gevind. Die tweede fase was om deur die betonvloer van die kelder te breek om die drein te bou. En laastens het hulle die outomatiese  dompelpomp  geïnstalleer met ‘n dreineringspyp wat straat toe gaan.

Dit het bietjie gevoel na ‘n “overkill” projek, maar die werk was skaars klaar die afgelope Dinsdag, toe begin die reënseisoen in alle erns.

En skielik was dit nie meer overkill nie. Die grondwatervlak het weer begin styg en die dompelpomp het dadelik aan die werk gespring en begin water uitpomp. En ons het baie goed gevoel oor die projek. Dit was nie overkill nie. Johannesburg se watervlak het nie gedaal nie. Dit was ‘n sluimerende krisis wat gewag het om te herhaal. Dus, Baie dankie aan Lai, Eric en hulle spanne werkers wat vir ons gemoedsrus gegee het om ‘n nuwe jaar van fliek in die tuisteater moontlik te maak. En die dompelpomp is geruisloos. Soos in absoluut stil.

Nou moet ons uitverf en matte insit. Ek gaan sommer ‘n BluRay player aanskaf om die tuisteater weer in te wy.

2 Comments

  1. Carlos:

    Baie geluk. Ek hoop julle gaan baie gelukkig wees met die nuwe kelder.

  2. Johan de Vries:

    Blu Ray ? Wat van n Apple TV wat jy alles kan stream van jou PC af na jou teater toe ?

Leave a comment