26th April 2008, 07:42 am
Die vakansie het aangebreek! Gisteraand ongeveer half nege het Air Malawi se vlieenier so ‘n skewerige landing by Kumuzo Lughawe uitgevoer. Doeane en bagasie het glad afgeloop en net na ek die ATM leeggetrek het, was ons slaggereed om Malawi aan te durf.
Ons taxibestuurder, Alex het ons nuuskierige vrae in baie detail beantwoord. Eintlik wou hy he ons moet hom as toergids vir die res van die vakansie huur. Gelukkig kon ek se ons Sputnik huurmotor was klaar bespreek.
Die Kiboko Hotel is in die Lilongwe se ou stad. Baie rustig stil en veilig. Enigeen wat hier oorbly moet bu Brioni Bistro net onder die Hotel gaan eet. Die eienaar, Brian, is na 28 jaar in Malawi ‘n onuitputlike bron van inligting. Hy het ons verwys na Cool Runnings in Senga Bay vir vanaand se oorbly.
Net soos Mosambiek sy Laurentina en 3M bier het, is hier in Malawi Carlsberg wat plaaslik gebrou word. Jy vra net vir ‘n Green of Brown. Die ander nasionale drankie is natuurlik MGT – Malawi Gin & Tonic. Die Tonic is natuurlik ‘n quinine aanvuller vir ons herbale malaria teenvoeter, Artemesia Afra.
19th April 2008, 10:50 pm
Oor Paasnaweek het ons by AIR MALAWI op OR Tambo die retoerkaartjies na Lilongwe gekoop, maar nog nie veel van ‘n reisplan gehad nie. Sedertdien is daar ‘n Toyota Starlet gebook wat Sputnik Car Hire by die Kiboko Hotel gaan aflewer, asook ‘n Island hopping adventure by Cape MacLear.
En dis nou juis hiervoor dat ons vandag die winkels ingevaar het, want die airie vlieg Vrydagmiddag (op die 10de anniversary)! Die eilandavontuur beloof groot snorkelduik ervarings en so eindig ons toe nou op voor die snorkeltoerusting in die sport-afdelingswinkel. En my neus pas nie in die standaard Wave snorkelstelletjie se duikbril in nie. Nou lyk dit of my investering in Cressi snorkeltoerusting 3 keer meer gaan wees, net vir die gemaklike duikbril!
En dan was daar die nuwe swembroek, seker die eerste keer in my lewe wat ek een aanskaf waarvan ek hou, en nie die ma/girlfriend/suster/vrou nie. First Ascent noem dit eintlik technical shorts, ek noem dit sommer wonderlik.
In Clicks het ek vir vroulief gewys dat ek haar kan beat as dit by shopping kom. Toe ek eers al die energy bars, pleisters, rehidrasie sakkies en allerhande ander eerstehulp en dokter jouself pille en dinge sien, was daar geen keer meer nie. Uiteindelik met genoeg proviand uitgestap om nie vir ‘n oomblik honger te wees of kopseer te kry nie.
Al waaroor ek effens bekommerd is, is die dikte van die blou rubbermatrassies wat vandag deel van ons kamptoerusting geword het. 10 mm klink maar bitterlik dun…
17th April 2008, 11:21 pm
Uit die aard van my werk kom ek gereeld (omtrent elke tweede dag) in die Johannesburg middestad. Sedert die middel jare negentig het ek gesien hoe die SSD (nee, nie ‘n obskure geheime polisiemag nie, maar die sentrale sakedistrik) agteruit gegaan het, en weer sedert 2003 ‘n opmerklike oplewing ondervind. Reeds in 2004 het ek geblog oor al die koffie shops in die SSD (sien die ou Cybersakkie HTML bladsy 6/3/04) maar daardie dae is verby.
Vanaand het beurtkrag vir vroulief depressief gemaak en ons moes opsluit wegkom en lig (die elektriese soort) gaan opsoek. Sy is altyd gewillig as ek die middestad voorstel, en vanaaand was geen verskil nie. Was dit Petula Clarke wat gesing het “the lights are much brighter there – so go Downtown”? Vanaand was dit inderdaad so by die 4 ster Mapungubwe Hotel se Black kroegsitkamer op die hoek van Ferreira en Marshall strate.
Die restaurant het volgesit, maar genadiglik was die kroegsitkamer groot genoeg dat ons die skares van Johannesburg se naglewe kon ontsnap. Die bordjie “bar snacks”, soos hulle dit noem, was ‘n eerlike verskeidenheid van samoosas en so aan teen ‘n billike prys. En kan jy ‘n beter atmosfeer voorstel as ‘n voormalige bankkluis met regte egte veilige bewarings boksies ingebou in die mure? Die plek was immers op sy dag die French Bank gewees!
En dan het ek nog nie eens begin vertel van Picassos (in die Barclays Bank gebou op die hoek van Commissioner en Harrison, net om die draai van Corner House) waar ek en Cornel vanmiddag gelunch het nie. Dit is om die minste te se aanskoulik. Enigeen wat nog die banksale van ouds onthou, sal weet waarvan ek praat. En op die koop toe is die diens en kos ook nog van hogstaande gehalte.
Doen jouself ‘n guns en gaan weer middestad toe. En ja, dis veiliger as die noordelike voorstede. Laat my weet as jy ‘n gids nodig het, solank jy lunch/dinner/drinks betaal…
17th April 2008, 12:27 pm
NUUS
Johannesburg Hooggeregshof beroof in middel van nag
Wynberg Landdroshof se telefone vir afgelope 3 maande afgesny
Sielkundiges te min betaal vir hof getuienis
Korrupte metro polisieman tot 3 jaar gevonnis
R33milj eis vir nalatigheid tydens geboorte van prokureur se dogter
Boesman nie haatspraak nie
Veroordeelde Nederlandse moordenaar kry interdik teen bekende joernalis
JURIESAAK
Is die ontslag van sekuriteitswag regverdig?
ANDER SAAK
Hoeveel onderhoud verdien ‘n kind uit ‘n gegoede ouerhuis?
Luister elke Woensdagaand van 21:00 tot 22:00 na ons lewendige uitsending op Uitsaaines Live direk van die internet of skryf in op die rss van Cybersakkie Law om elke week se episode afgelewer te kry. Hierdie week se episode was 50:27 lank en 34.7MB groot om af te laai.
14th April 2008, 09:24 pm
Sedert ons internetverbinding na die kantoor langs die huis verhuis het, was ons afgesny van die aanlyn wereld binne die huis, behalwe in die kombuis. Die tyd het egter gekom om ons hele huis met draadlose internet te bedek. Die oplossing was heel eenvoudig, ‘n range expander. Die range expander is ‘n klein boksie wat die draadlose 802.11g sein opvang en dan dadelik repeat. Die sekuriteitsinstellings het bietjie tyd gevat, maar daarna het hy ononderbroke uitgesaai. ‘n Eenvoudige oplossing wat Ane ‘n maandelikse Telkom subskripsie op die huis se telefoonlyn gaan spaar. Die R699 koste gaan in minder as 5 maande afbetaal (teen R145/maand vir DSL).
9th April 2008, 10:44 pm
Dalene en Etienne gesels oor die reg in Suid Afrika.
NUUS
Mag polisie sosialiseer met kriminele?
Alix Carmichele skadevergoeding saak aangehoor
Harare Hooggeregshof reserveer verkiesing uitspraak tot Maandag
Britse soldaat gevonnis tot onbepaalde psigiatriese waarneming na familieslagting in Newcastle
JURIESAAK
Cell C v Zulu – Het ‘n ooreenkoms vir ‘n mobiele telefoonsentrum tot stand gekom?
ANDER SAAK
Die reg van appel – en die verdwyning van mnr Rashid
Luister elke Woensdagaand van 21:00 tot 22:00 na ons lewendige uitsending op Uitsaaines Live direk van die internet of skryf in op die rss van Cybersakkie Law om elke week se episode afgelewer te kry. Hierdie week se episode was 37:21 lank en 25.7MB groot om af te laai.