Archive for the ‘Fietsry’ Category.

Montecasino funride

Die afgelope week sien ek op Cyclelab se website die funride by Montecasino en besluit dadelik om deel te neem synde die Merida nou nog nie eintlik die oop pad ervaar het nie. Gelukkig is die somer nou op ons, en was dit nie te koud om 7h00 aan te tree by die wegspring nie. Nou is ek eers bly ek het nie ‘n Raleigh gekoop nie, elke tweede fiets op die pad is ‘n Raleigh! Nie een ander Merida gesien nie… En ek is eers bly vir die Shimano 105 10 speed group set. By die opdraendes sit jy hom in die heel laagste rat en werk hom dan so geleidelik op boontoe. Praat nie eers van die afdraendes nie, vanoggend se max was 74.3 km/h. Totale tyd oor 49km: 2:05:37.

Egoli roete

Dis mos nou vandag vakansie hier by ons en die weer het so goed saamgespel dat ek al 8 uur vanoggend op my fiets was. Met minder karre op die pad as ‘n gewone weeksoggend het die roete vanaf Greenside opgegaan tot by Dunkeld West, af met Bompas na Oxford en volstoom na die Nelson Mandela Square in Sandton waar ek gestop het vir koffie. Daarna weer terug via Saxonwold, deur Forest Town langs die dieretuin en verby Westcliff na Greenside.

Stats:
DST 24.79km TM 1:10:48 MX 60.3

PS
Johan, ek het net-net binne die spoedgrens gebly soos jy kan sien!

Vandag is ook om ‘n ander rede ‘n spesiale dag, dit was 17 jaar terug, ook op ‘n Woensdag, toe ek en my pa Johannesburg toe gery het om my eerste resiesfiets te koop, die Zini, wat ek tot onlangs toe gery het. Oppad terug Benoni toe het ons sonder petrol gaan staan in Bez Valley! Daardie dag is een van my aangenaamste herinneringe uit my kinderdae in Benoni.

Ek en my Merida

Vanoggend was dit nou sulke tyd gewees. Vir amper ‘n uur staan ek en wik en weeg tussen die Raleigh en die Merida en gelukkig kom Jason, ‘n baie bekwame verkoopsman, daar aan om my uit my elende te help. Ek was totaal en al besluitloos. Na hy mooi vir my die verskille tussen die twee fietse uitgewys het was die keuse klinkklaar. Die Merida 904 sal dit wees. En teen 14:00 kan ek hom kom haal. Met die fiets opgestel vir my lengte en liggamsbou en toegerus met ‘n nuwe Cateye cycle computer, ry ek by Westdene Cycles uit huis toe. Die STI ratte was nogal moeilik om aan gewoond te raak, maar die Shimano clipless pedals ry soos ‘n droom. En is 20 ratte nie net wat mens nodig het om elke bult te klim en afdraende af te jaag nie? Ek het reeds ‘n 68 km/h geklok in die 8km terug huis toe. Dis ‘n droom van ‘n fiets!

Ek en my Merida

Shimano 105, maar op watter fiets?

So die versekering betaal toe mos nou die dag my eis uit vir die 4 fietse wat gesteel is, en ek betree die nuwe fietskoper mark met trepidasie (help my asb uit wat is die Afrikaans vir trepidation?). Gou kom ek agter dat Shimano 105 nog bestaan 17 jaar later, en fietspryse het meer as vervierdubbel!

Die eerste winkel in Benoni wat ek (uit lojaliteit) besoek het net Giant en GT fietse, en ek besluit om eerder na een van Johannesburg se grootste fietshandelaars, Westdene Cycles, te gaan. Hulle keuse is verbysterend – Giant, GT, Fuji, TREK, Avalanche, Raleigh ens. Noem dit en hulle het dit. En natuurlik Shimano 105 op omtrent enige model van jou keuse.

Maar nou is die versoeking groot om ‘n fiets met Campagnolo (die koning van groupsets) te koop, want sien daar is ‘n Raleigh model met volledige Campagnolo group- en wheel set wat van R14000 afgemerk is na R8000. Maar my budget is eintlik R7000. So wat gaan dit wees, Shimano 105 of Campagnolo? Watch this space…